Prysgee t.w.v. Roeping?
Ek glo ’n gemeente se identiteit word bepaal deur die plekke waarheen God haar stuur en nie deur die samestelling van haar lidmate nie. As jy mooi dink oor hierdie stelling, het dit eintlik verskriklike groot implikasies. Tog dink ek dat dit die rigting is waarheen ons moet beweeg.
Te veel van ons besluite word beïnvloed deur wat mense in ons gemeente(en veral die invloedrykes) sal sê eerder as wat ons ernstig besin oor waarheen en na wie God ons gemeente stuur en ons besluite daarvolgens neem.
Laat my toe om ’n bietjie meer uit te brei. Kempton-Kruin staan in ’n voorstedelike gebied waar daar twee Afrikaanse laerskole is wat oorloop van hulle getalle. Ons het ’n Afrikaanse hoërskool wat tel onder die grootstes in die land. Dit is dus redelik veilig om te sê dat ons omgewing bestaan uit ’n groot aantal gesinne waarin daar ’n skoolgaande kinders is. Gegewe die omgewing waarbinne ons woon, glo ek die lidmaattal van hierdie gemeente behoort veel meer as 4000 te wees. Dalk nader aan dubbeld die getal.
Hoeveel ander gemeentes in Kemptonpark is gefokus op gesinne? Hoeveel ander gemeentes in Kemptonpark is gerig op die behoeftes van ouer lidmate? In ons ring alleen tel ek vier gemeentes wat gefokus is op tradisionele kerkwees. Daar is ’n ander gemeente wat ’n bietjie vernuwend dink, maar wat nie baie goed geleë is nie. En dan is daar Kruin, wat in die middel van al die skole is en perfek geposisioneer is om daadwerklik ’n verskil in die lewens van gesinne te maak, maar iewers langs die pad die mense waarheen God ons stuur, mis.
Ons het al begin om goed reg te doen – twee leraars wat gefokus is op gesinne van kinders en tieners onderskeidelik. Die vraag is egter of ons regtig nog genoeg doen. Hoekom is ons getal lidmate so laag. As ons dan regtig gefokus is op gesinne, moet ons nie baie meer lidmate hê wat hulle gesinne hierheen bring om te groei in hulle verhouding met die Here nie?
Terug by my opmerking aan die begin. Ek dink daar is nog baie van ons huidige lidmate wat selfsugtig daaraan vashou dat ons ’n tradisionele gemeente met tradisionele bedieningstyle moet wees. Daar is selfs lidmate wat hand en tand daarvoor sal veg. Om ’n tradisionele kerk te wees gaan eenvoudig nie die massas gesinne rondom ons bereik nie. Ek pleit vir ’n ernstige herbesinning oor die wêreld waarheen God ons gemeente stuur. Hier is dit nie ’n geval van die arbeiders wat min is vir groot oes nie, maar eerder ’n geval van die arbeiders wat selfsugtig is en net aan hulle eie behoeftes dink terwyl ’n groot oes op die land lê en wag!
Miskien moet ons ophou om te veg vir ons eie behoeftes – selfs vir dinge wat oor tyd vir ons kosbaar geword het. Dalk moet ons leer dat ons van die dinge wat vir ons kosbaar is, moet prys gee om die mense te bereik hier rondom ons wat in hulle gesinne so nodig het dat die Here op die troon van hulle gesinne moet sit.
Die antwoord lê nie in ’n geveg oor wat wie se voorkeure is nie. Ek glo ons moet ophou praat oor ons voorkeure en behoeftes en begin praat oor die wêreld waarheen God ons stuur. Ons staan perfek geposisioneer, ons het die fasiliteite, die geleentheid is hier voor ons… kom ons gryp dit net aan (“just do it” – soos Neels nou die aand na verwys het). My hart se wens is dat ons sal ophou praat (en selfs stry) oor ons eie behoeftes en dat ons ernstig en biddend vir God sal vra om ons harte en ingesteldheid so te verander dat ons ’n gemeente wat gehoorsaam is aan die roeping wat God vir ons gee om die gesinne van Kemptonpark met sy Evangelie te bedien. Net so iets van my hart vir die bediening…

Ek stem saam!!!!!
Dis amper asof ‘n klein persentasie van die lidmate die kerk geestelik gevange hou…Ek bid al 10 jaar vir hierdie kopskuif:)
Dankie Richter – ek bid saam met jou!
Schalk ek deel jou mening, maar ek reken die “probleem” wat daar is om die kopskuif te maak soos Richter dit stel, le juis daarin dat ons as lidmate nie met diepte en insig die Woord bestudeer en leef nie. My vraag is; Wat se die Bybel oor die saak en wat DOEN ons elkeen dan om gehoorsaam te wees? Nie wat mense se nie, maar wat se God vir my.
Ferdi
Dankie vir ‘n goeie vraag. Miskien moet ons begin deur aanhoudend vir onsself te vra: Na wie of waarheen stuur God ons? ‘n Ander vraag egter is: hoe sal ons dit weet as ons die Woord alleen lees. Die kategismus praat van Woord en Gees. Ek glo ons moet meer en meer leer om saam te soek na die persone of plekke waarheen God ons lei – deur Woord en Gees. Ons moet ook leer om te luister na die wêreld waarbinne God ons geplaas het. Ons moet egter net versigtig bly omgaan met ons eie behoeftes, want dit bly altyd ‘n gevaar dat ons God se roepstam kan mis.
Ek steun jou kommentaar en stel voor dat ons gemeente begin deur ‘n geleentheid daar te stel, dalk maandeliks of weekliks vir manne om bymekaar te kom en juis dit wat reeds gese is te ondersoek en bespreek met die Bybel as kompas.
Ferdi
Dit klink na ‘n goeie idee – ons gaan volgende kwartaal begin met ‘n mannebediening en ons kan dalk daar saampraat. Ek sal tog wil hê dat die hele gemeente hieroor begin praat.
Ek wonder oor waarheen ons gemeente op pad is. Waar wil ons oor 3 jaar en oor 5 jaar wees? Wil ons maar net sorg dat ons die SQ handhaaf? Ons gemeente se visie en missie is baie mooi en ek vereenselwig myself 100% daarmee. Die probleem is dat daar nie in hierdie visie en missie duidelike bereikbare en meetbare doelwitte is nie. Ons kan nie vandag uit een mond sê ons wil oor 3 jaar en oor 5 jaar hierdie en daardie doelwitte bereik nie. Ek kan persoonlik aan ‘n paar dinge dink wat vir my baie belangrik is – en jy sal uit die post hierbo baie daarvan kan aflei, maar dit is net my doelwitte en nie gemeentedoelwitte nie. Ons moet iewers hierby begin uitkom en ek raai dat daar baie van ons lidmate gaan wees wat nie hiervan gaan hou nie, juis omdat hulle wil veg om die SQ net so te behou. Vir sulke lidmate is dit eenvoudig genoeg om “Voluit vir die koninkryk” op die bord voor die kerk te sien en Sondag vir Sondag bedien te word soos wat dit nou gebeur.
En as ons dan kan begin saamdink en bereid is om die harde en eerlike vrae te vra, glo ek dat ons iewers in die Woord gaan ontdek dat om kerk te wees soos ons dit nou doen, nie goed genoeg is nie. Ek glo nie ons manier van kerkwees is wat die Bybel ons leer nie. Weereens – ‘n stelling soos hierdie gaan baie mense ontstel en selfs vervreem, maar tog moet ons begin om hierdie vrae te vra.