40 Dae “Saam is ons beter”

Die daaglikse oordenkings vir ons gemeente se 40 dae fokus word hier op die blog geplaas vir bespreking.  As daar enige iets wat jy wil sê oor die inhoud daarvan, maak asb van hierdie geleentheid gebruik.  Mag ons Heer verheerlik word deur hierdie projek!

Advertisement

~ by schalkbasson on May 1, 2011.

41 Responses to “40 Dae “Saam is ons beter””

  1. Week 1 Ons word verplig om God se familie lief te hê…

    Dag 1 (1 Mei) Omdat God ons liefhet
    “Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.” (1 Joh 4: 11)
    Die lewe gaan hieroor: om te leer om lief te hê.
    Die doel van ons tyd hier op aarde is nie primêr om besittings en status te verkry of sukses te behaal of selfs gelukkig te wees nie. Dit alles is sekonêre dinge. Die lewe gaan oor liefde en om verhoudings met God en ander mense te ontwikkel. Jy kan op baie gebiede suksesvol wees, maar as jy nie leer om God en ander lief te hê nie, het jy die rede waarom God jou geskape het en waarom jy hier op aarde geplaas is, gemis. Om te leer om lief te hê is een van die belangrikste lesse in die lewe. Jesus noem dit die “grootste gebod” (Matt 22: 38). Niks anders is belangriker nie.
    Joh 4: 11 hierbo beskryf die beginpunt in die bou van gemeenskap: besef hoe lief God ons het. Hy het nie net vir jou lief nie, maar Hy het almal ewe veel lief en Hy wil hê dat sy kinders mekaar ook sal liefhê. Daar word drie elemente benodig om ‘n lewe van liefde te leef:
    • God se liefde vir ons is die rede om ander lief te hê.
    • God se liefde in ons gee ons die vermoë om ander lief te hê.
    • God se liefde deur ons gee ons die manier om ander lief te hê.
    Kerngedagte: Die lewe gaan hieroor: om te leer om lief te hê.
    Nadinkvraag: Is ek bereid om hierdie reis van 40 dae aan te pak saam met my medegelowiges?

  2. Dag 2 (2 Mei) Omdat God dit beveel
    “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” (Joh 13: 34)
    Liefde is ‘n daad van ons wil.
    God sê dat ons ‘n besluit moet nee mom mekaar lief te hê. Ons moet ander gelowiges liefhê ongeag hoe ons oor hulle voel en hoe liefdeloos hulle mag optree. Hoe moeilik dit ook al is, ons moet die gelowiges in ons gemeenskap aktief en konstant baie liefhê.
    Liefde is ‘n opdrag. Ons keuse om lief te hê dui op gehoorsaamheid. God beskou om mekaar lief te hê as so belangrik dat Hy ons die opdrag gee dat ons dit moet doen. Dit is ‘n les wat so belangrik is dat Johannes liefde en gehoorsaamheid as een en dieselfde beskou: as jy liefhet, sal jy sy opdragte gehoorsaam. Jesus verwag van ons om ander mense as hoogs gewaardeerde kinders van God, wat ons tyd, aandag en energie werd is, te beskou. As lede van God se familie moet ons kies om lief te hê en nie wie om lief te hê nie!
    Liefde benodig gemeenskap. Ons kan nie God se opdragte in isolasie uitvoer nie. Ons moet verbind wees daartoe om “mekaar lief te hê”. God het elkeen van ons anders geskape, en Hy weet dat elkeen ander perspektiewe en behoeftes na die gemeenskap bring. Die seerkry, gewoontes en inhibisies in enige groep het die potensiaal om in konflik te ontaard, maar God het ons so gevorm om konflik te gebruik om ons in Christus te laat groei.
    Liefde het hoë standaarde. Jesus sê dat ons vir mekaar moet wees wat Hy vir ons is. Die liefde van Jesus is onselfsugtig, opofferend en onderdanig aan die Vader se wil. Sy standaard vir liefde is persoonlik – dit reik uit na dié wat dit nie verdien nie en kyk verby hul foute na die desperate behoeftes van hulle harte.
    Kerngedagte: Liefde is ‘n daad van ons wil.
    Nadinkvraag: Hoe kan jy vandag die onselfsugtige liefde van God aan ‘n onbeminlike persoon in jou lewe bewys?

  3. Dag 3 (3 Mei) Want dit is hoe ons God liefhet
    “…want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.” (1 Joh 4: 20b)
    Ons het God lief deur ander lief te hê.
    Omdat gelowiges rondom ons belangrik vir God is, behoort hulle net so belangrik vir ons te wees. Indien ons sou sê dat ons God liefhet, maar ons het nie ander gelowiges lief nie, is dit os goed soos om te sê: Ek hou van jou maar ek hou nie van jou vrou nie.
    Die Bybel sê: “…elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.” (1 Joh 4: 7b-8). As ons nie die mense wat langs ons in die kerk sit liefhet nie, hoe kan ons sê dat ons God liefhet wat in die hemel is?
    Ons het mekaar lief as ons mekaar sien soos God ons sien. Dit beteken dat ons moet ophou om mekaar te oordeel volgens voorkoms en eerder na mekaar moet kyk vanuit ‘n hemelse perspektief. Ons het God lief as ons die wat die Bybel ons bevel en nie net hoor wat dit te sê het nie. Die moontlikheid bestaan dat ‘n persoon getrou die Bybel kan bestudeer, maar nie God se liefde verstaan nie. Dit is onmoontlik om in die kerk te sit en vir 30 jaar lank die Woord te hoor en so min as moontlik vir jou medemens doen, maar nog steeds daarvan oortuig te wees dat jy vir God liefhet. Die Bybel sê dat ons liefde moet betoon wanneer ons die geleentheid kry, met elke kans wat ons het. Is jy daarvan bewus dat God gedurig mense oor jou pad bring sodat jy die geleentheid kan kry om liefde te bewys? Die Bybel leer “Moenie vir iemand sê: ‘Gaan eers terug en kom môre weer, dan help ek jou’, as jy nou reeds kan help nie.” (Spr 3: 28) Dit is nou die regte tyd om liefde te betoon!
    Kerngedagte: Ons het God lief deur ander lief te hê.
    Nadinkvraag: Wat sê die manier waarop jy liefde aan ander bewys, van jou liefde vir God?

  4. Dag 4 (4 Mei) Want dit wys dat ons gered is
    “Ons weet da tons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief.” (1 Joh 3: 14)
    Om ander gelowiges lief te hê is die bewys dat ons deel van God se familie is.
    Wanneer ons lede van God se familie word, vind daar ‘n dood-na-lewe transformasie plaas. Ons is nie meer kieskeurig met wie ons liefhet nie, maar ons het onvoorwaardelik lief. Dink na oor die volgende: as jy nie liefde vir ander het nie, en jy net begaan is oor jou eie behoeftes, dan moet jy jouself die vraag afvra of jy werklik God in jou lewe het. ‘n Hart wat deur God verander is, is ‘n hart wat liefhet. As jy wonder oor jou redding dan moet jy jouself afvra: Het ek ander gelowiges lief? As jy nie vrug dra wat by bekering pas nie, doen ‘n bietjie selfondersoek.
    Die eerste stap om te leer om soos Jesus lief te hê is om jouself ten volle aan Jesus Christus oor te gee. Jy doen dit deur…
    • … te glo – Glo dat God jou liefhet en jou geskape het vir sy doel. Glo ook dat jy nie toevallig hier geplaas is nie. Glo dat jy geskape is om ewig te leef. Glo dat jy gekies is om in ‘n verhouding met Jesus te leef. Glo in jou hart dat Jesus aan die kruis vir jou gesterf het en dat God Hom laat opstaan het uit die dood. Glo dat wat jy ookal in die verlede gedoen het, God jou sal vergewe.
    • … te ontvang – Ontvang dan vir Jesus in jou lewe as jou God en jou Redder. Ontvang sy vergifnis vir jou sonde. Die Bybel sê: “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe…” (Joh 3: 36a, Die Boodskap)
    Waar jy ookal nou besig is om hierdie woorde te lees, nooi ek jou om jou hoof te buig en saggies die volgende gebed te fluister: “Jesus, ek glo in U en ek ontvang U.” Sy Gees sal jou lewe binnekom en jou die krag gee om ander op ‘n goddelike standaard lief te hê.
    Kerngedagte: Om ander gelowiges lief te hê is die bewys da tons deel van God se familie is.
    Nadinkvraag: Indien jy in ‘n hofsaak betrokke sou raak as gevolg van jou geloof, en die manier waarop jy liefde uitleef is die enigste bewysstuk, wat sal die uitspraak wees?

  5. Dag 5 (5 Mei) Omdat ons ‘n familie is
    “Julle moet alle mense respekteer en julle moet medegelowiges liefhê.” (1 Pet 2: 17a)
    Ons gaan nie net kerk toe nie, ons is deel van ‘n familie van God se kinders. Kerk is veel meer ‘n organisasie of ‘n instelling of ‘n groep enersdenkende mense. Ons is ‘n familie wat deur God se liefde saamgevoeg is en ons moet almal “hartlike broederliefde teenoor mekaar” (Rom 12: 10a) betoon. Die gevoel van ‘n familiebyeenkoms laat ons t
    volle doelgerigte lewens te leef. In so ‘n gemeenskap voel mens tuis en help jy graag om ander ook te laat tuis voel. Familie is sinoniem met ‘n diep, rotsvaste verbintenis om mekaar te ondersteun ongeag hoe rof dinge raak. Jy doen dinge vir familielede wat jy nie vir ander menses sal doen nie.
    Hoe leer ‘n geestelike familie ons om lief te hê?
    • Dit leer ons gesonde verhoudings ontwikkel. Ons leer dat eerlikheid, kwesbaarheid, moeite en baie vergifnis verhoudings laat werk.
    • Dit leer ons om ‘n goddelike karakter te ontwikkel. Soms tree ons (en ander) volwasse op en soms onvolwasse, maar daardeur leer ons en groei ons saam.
    • Dit leer ons die belangrikheid van Bybelse waardes. Deur aan mekaar blootgestel te wees leer ons Bybelse waardes aan, of dit nou doelbewus is of nie.
    Dit is nou die geleentheid om jou geestelike erfenis wat ook jou biologiese erfenis sal verander, te ontvang. Moenie die kans laat verbygaan nie. Sluit aan by jou broers en susters en leer om innig lief te hê.
    Kerngedagte: Liefde moet aangeleer word.
    Nadinkvraag: Hoe toegewyd is jy aan jou geestelike familie in die gemeente?

  6. Dag 6 (6 Mei) Want dit is oefening vir die ewigheid
    “Ek wil graag hê dat julle moet aanhou om God so ywerig te dien. Hou so aan tot God alles gedoen het wat Hy beloof het.” (Heb 6: 11 – Die Boodskap)
    Die belangrikste les om te leer is dat die lewe oor liefde gaan.
    God het die lewe vir ons ontwerp om te leer om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet. Op die oomblik is almal van ons besig met opleiding daarin. God gebruik baie dinge – pyn en lyding, vreugde en hartseer, teenstand en samewerking om ons in mense te ontwikkel wat diep en opreg liefhet. God het die lewe so ontwerp om ons bande met ‘n egoïstiese benadering te verbreek en ander mense in die middel te plaas.
    Die liefde sal ewig bly staan. Die lewe hier en nou is voorbereiding vir ‘n ewigheid van liefde. Ons oefen nou ons liefde vir mekaar en versterk ons vaardigheid daarin, om onsself voor te berei vir die Wêreldbeker van Liefde in die hemel.
    Terwyl ons hier op aarde is moet ons:
    • Indringend en hartstogtelik liefhê. Daar is ‘n dringendheid daaraan verbonde om te leer liefhê, want vandag kan ons laaste dag op aarde wees. Die lewe gaan vinnig verby en die ewigheid is aan die kom.
    • Gedurig liefhê. Solank as wat ons leef moet ons aanhou liefhê. Die kurrikulum van liefde is nie iets wat jy eenkeer leer en dan agter jou sit nie. Ons moet ‘n leeftyd bestudeer totdat ons kan sê: “God is liefde. As daar dus liefde uit jou lewe straal, vertel dit hoe naby jy aan God leef” (1 Joh 4: 16b – Die Boodskap)
    • Vol verwagting liefhê. Ons moet aanhou liefhê “… tot God alles wat Hy beloof het, gedoen het.” (Heb 6: 11b – Die Boodskap). Liefde sal in die hemel ryklik beloon word. Hier op aarde kry ons ons grootste belonings vanaf diegene wat ons waarlik liefhet.
    Kerngedagte: Die belangrikste les om te leer is dat die lewe oor liefde gaan.
    Nadinkvraag: Hoe kan ek liefde meer indringend, gedurig en vol verwagting beoefen?

  7. Dag 7 (7 Mei) Want dit is ‘n getuienis teenoor die wêreld
    “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” (Johannes 13: 35)
    Die hele wêreld kyk na hoe ons mekaar liefhet.
    Jesus het die wêreld die reg gegee om die egtheid van ons geloof te beoordeel deur te kyk hoe lief ons mekaar het. Ons bewys ons geloof in Christus , nie deur in die eerste plek by die reëls te hou nie, maar deur die liefde wat ons vir mekaar het prakties uit te leef. Jesus het sy dissipels geleer: “Wees lief vir mekaar en dit sal vir die wêreld wys dat julle vir My lief is.” Ons liefde vir mekaar is ‘n tasbare en aansteeklike refleksie van God se liefde – dit laat ons toe om te getuig van sy krag in veranderende lewens.
    Totdat die wêreld die liefde in die Christelike gemeenskap sien werk, sal hulle moeilik glo dat dit bestaan. Wanneer ons werklik vir mekaar omgee, wys ons vir die wêreld ‘n tasbare en aansteeklike liefde waartoe hulle dadelik aangetrokke voel.
    Die wêreld wil weet of die Goeie Nuus oor Jesus waar is. Hierdie week se vers kan jy gerus memoriseer, want dit vertel dat die liefde wat ons vir mekaar het die bewys is waarna die wêreld soek. Mense word deur ons liefde vir mekaar beïndruk en nie deur ons mooi woorde nie. Ons liefde vir mekaar spreek boekdele oor God se liefde. Praat jou lewe so oor God?
    Kerngedagte: Die hele wêreld kyk na hoe ons mekaar liefhet
    Nadinkvraag: Is jou optrede ‘n sprekende voorbeelde van jou liefde vir God?

  8. Week 2. Ons het ‘n opdrag om saam uit te reik…

    Dag 8 (8 Mei) Deur doelbewus te wees
    “Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.” (Kolossense 4: 5, 6)
    Liefde gee om vir die eindbestemming van ander.
    As jy die geneesmiddel vir kanker of Vigs het, sal jy dit ‘n geheim hou en toelaat dat miljoene mense sterf? Sal dit as liefdevol beskou kan word? Natuurlik nie. As gelowiges weet ons hoe om die ewige lewe te verkry en dit is ‘n dringende en wonderlike boodskap wat ons met ander moet deel. Die liefde laat ons geen keuse nie.
    Die beginpunt van uitreik na ongelowiges is om doelbewus daarmee besig te raak. Totdat ons nie besluit het om begaan te wees oor die lot van dié wat nog nie in God se familie is nie, sal ons geen tyd opoffer of bid of moeite doen sodat hulle Jesus kan vind nie. Dit is so maklik om stil te bly terwyl mense rondom ons leef en sterf sonder om Christus te ken, maar dit is ook liefdeloos.
    In die teks hierbo gee Paulus 4 maniere waarop ons Jesus doelbewus aan ander kan voorstel:
    • “Tree met wysheid op” – wat jy sê en doen is ‘n getuienis van Jesus en dat jy sy volgeling is.
    • “Maak die beste gebruik van elke geleentheid” – Jy kan vir God daagliks vra om jou oë oop te maak vir die geleenthede om vir Hom te getuig… geleenthede wat jy dalk self sou mis.
    • “Altyd vriendelik en van goeie smaak getuig” – mense word geboei om deel te wees van God se familie deur liefde en nie preke nie.
    • “Weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” – Ken God se Woord en God se liefde sodat jy daaroor kan praat.
    Kerngedagte: Maak die beste gebruik van elke geleetheid
    Nadinkvraag: Sal daar iemand in die hemel wees as gevolg van jou?

  9. Dag 9 (9 Mei) Deur van kleingroepe gebruik te maak
    “… ek wil hoor dat julle soos een man saamstaan en alles doen om ander mense te oortuig dat die goeie boodskap regtig goed is.” (Fil 1: 27b – Die Boodskap)
    “Ons” is meer kragtig as “ek”.
    Daar is krag in vennootskap en dit is ook waar wanneer ‘n mens in die wêreld van Jesus werk. Evangelisasie is altyd spanwerk selfs in die tye wanneer jy dink dat jy alleen werk. Die realiteit is dat wanneer jy iemand na Christus lei, die Heilige Gees alreeds in daardie lewe aan die werk was en dat ander gelowiges ook ‘n direkte of indirekte invloed gehad het.
    Met samewerking bereik ‘n mens soveel meer. Dit is die waarde van ‘n kleingroep – om sy-aan-sy te werk en saam ons familie en vriende na Christus toe te bring. In ‘n kleingroep is die eerste stap om saam te bid. Ons kan nie vir mense bid en ons nie oor hulle ontverm nie. Hier is vier maniere waarop ‘n groep vir hulle ongelowige vriende kan bid:
    • Bid vir die geleentheid om oor Jesus te praat
    • Bid dat God dié wat jy wil bereik se harte sal voorberei
    • Bid dat God jou eie hart sal sag maak t.o.v. jou eie voorbehoude
    • Bid soos die Christene van ouds dat “die Evangelie soos ‘n veldbrand deur die wêreld sal versprei.” (2 Tess 3: 1b – die Boodskap)
    Verder kan jy saam met jou kleingroep uitreik deur doelbewus en kreatief te werk te gaan om die persoon(e) vir wie julle bid, te nooi vir ‘n braai of rugby of fliek of wat ookal – wees kreatief. “Maak die beste gebruik van elke geleentheid.”! (Kol 4: 5b)
    Kerngedagte: “Ons” is meer kragtig as “ek”
    Nadinkvraag: Vir wie in jou familie- en vriendekring kan jou kleingroep bid?

  10. Dag 10 (10 Mei) Deur gasvry te wees
    “Wees gasvry teenoor alle mense sonder om te kla.” (1 Pet 4: 9)
    Oop harte lei na oop huise.
    Vir Christene is gasvryheid nie ‘n opsie nie – dit is ‘n opdrag. Jesus se uitreik na die minderbevoorregte, die gevangene, die blinde en die onderdrukte wêreld moet ook op die een of ander manier ons s’n word. (Lees Luk 4: 18,19) As Christene hul huise oopmaak en gasvry is soos die Bybel voorskryf, sal ons die samelewing drasties kan verander. Ons sal ‘n groot rol kan speel in die geestelike, morele en emosionele redding van ‘n gemeenskap.
    Baie mense wat sê dat hulle volgelinge van Jesus is, het geen idee wat dit behels om gasvry te wees nie. Ons het toegelaat dat die wêreld ons in ‘n vorm giet. Onthaal beteken: “Ek wil jou beïndruk met my mooi huis, my knap binneversiering of my smaaklike kookkuns.” Gasvryheid wil graag getuig. Dit sê: “Hierdie huis is nie myne nie. Dit is ‘n geskenk van God. Ek is ‘n dienskneg en ek gebruik dit oos Hy wil.” Gasvryheid beïndruk nie, dit dien.
    Vandag se kerke benodig onselfsugtige, liefdevolle, aanvaardende gasvryheid. Totdat ons nie ware aanvaarding in ons kerkfamilies gekweek het nie, sal gasvryheid deur die wêreld as skynheilig beskou word.
    Dit is jammer om te sien hoe min Christene na hulle bure uitreik. Dit is juis daar waar ons Vader graag wil hê dat ons moet getuig. Hoeveel van ons poog om maniere te vind om ons bure te dien en barmhartigheid te betoon. Soms maak ons amptelike Christenskap – ons vergaderings en verantwoordelikhede – ons minder bereikbaar in plaas van meer bereikbaar.
    Let op die HAT se definisie van gasvryheid: “Wat vriend en vreemdeling altyd met hartlike gulheid ontvang en huisvesting verleen…” Vriend sowel as vreemdeling!
    Kerngedagte: Oop harte lei na oop huise
    Nadinkvraag: Het jy onlangs jou bure na jou huis oorgenooi?

  11. Dag 11 (11 Mei) Deur aanvaarding te toon
    “Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.” (Romeine 15: 7)
    Ons moet mekaar aanvaar soos Jesus ons aanvaar.
    Jesus het ons lief selfs al is ons op ons ergste. Hy aanvaar ons as sy geliefde kinders, ongeag ons sondige lewens, onrein motiewe en irriterende houdings. Sy aanvaarding keur nie sonde goed nie, maar erken da tons deur God gemaak is – elkeen is ‘n unieke kind van God geskep vir ‘n spesifieke doel.
    Een van die maniere waarop ons mekaar kan liefhê is om mekaar te aanvaar soos Christus ons aanvaar. Jesus was nie bang om met ongelowiges bevriend te wees nie. Hy het verby hulle sondigheid gekyk en gesien wat God graag wou hê hulle moet wees. Een van die beste voorbeelde van hoe Jesus dit doen is in die verhaal van Saggeus. In hierdie verhaal leer ons die eienskappe van Christelike aanvaarding.
    Eerstens maak dit nie saak waar jy op jou lewensreis is nie, Jesus sal jou daar ontmoet. Tweedens ken Jesus jou naam, ongeag wat ander jou noem en noem jou persoonlik op jou naam, omdat Hy ‘n hand van vriendskap na jou toe uitsteek. Verder maak dit nie saak wat jy gedoen het nie, want Jesus sal jou nooit verwerp nie. Goeie gedrag was nog nooit ‘n voorvereiste vir ‘n vriendskap met Jesus nie. As Saggeus enigsins soos ons was het hy waarskynlik gedink dat hy nie goed genoeg was om Jesus na sy huis te nooi nie, maar in werklikheid het Jesus dit alles raakgesien.
    Kerngedagte: God wil hê dat jy ander moet aanvaar net soos Jesus jou aanvaar.
    Nadinkvraag: Wie is die laaste persoon in jou lewe wat jy ooit sal verwag om hom-/haarself te bekeer? Hoe kan jou aanvaarding vir hom/haar ‘n brug na Christus wees?

  12. Dag 12 (12 Mei) Deur vriendskappe te bou
    “Leef in harmonie met mekaar. Moenie baklei nie. Moenie beter as ander mense probeer wees nie. Maak vriende met mense wat nie te veel van hulleself dink nie.” (Romeine 12: 16 – die Boodskap)
    “Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met god wat Hy bewerk het.” (2 Kor 5: 20b)
    Dit is die boodskap wat ons na die wêreld toe moet neem, maar ons beperk onsself in die wyse waarop ons die Goeie Nuus kan deel as ons enigste vriende ander gelowiges is. Jesus het egter verstaan dat sy missie op aarde was om die verlorenes te soek. Hy het dus vriende gemaak met dié wat vriende van God moes word.
    Jesus het sy doel geken en dit het Hom toegelaat om tussen ongelowiges te ontspan. Hy was nie bekommerd daaroor dat ander Hom sou sien as die vriend van sondaars nie, want Hy het presies gedoen waarvoor die Vader Hom gestuur het.
    Net so wil Hy hê dat ons sy verteenwoordigers moet wees, maar tog is daar soveel Christene wat geïsoleerd is en geen kontak met ongelowiges het nie. Hulle kan amper nie betekenisvolle gesprekke met ongelowiges voer nie. Hoe langer ons gelowig is, hoe meer geïsoleerd word ons van ongelowiges.
    Jesus verstaan da tons getuienis teenoor ‘n ongelowige begin met vriendskap. Mense gee nie regtig om hoeveel jy weet nie – hulle gee eerder om hoeveel jy omgee.
    Om vriendskap met ongelowiges te bou, vereis die volgende:
    • Hoflikheid – “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig…” (Kol 4: 6)
    • Gedurig – Jy moet tyd spandeer om waarlik vriende te word
    • Opregtheid – “Moenie net maak asof julle mekaar liefhet nie. Nee, gee regtig vir mekaar om…” (Rom 12: 9 – die Boodskap)
    Kerngedagte: Wees lief vir die mense van die wêreld, maar nie die waardes van die wêreld nie
    Nadinkvraag: Het jy enige betekenisvolle vriendskappe met ongelowiges?

  13. Dag 13 (13 Mei) Deur prakties hulp te verleen
    “Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” (1 Joh 3: 18)
    Mense weet dat ons hulle liefhet as ons liefde aan hulle betoon.
    Jesus het stil gaan staan. Hy het stilgestaan as iemand sy hulp nodig gehad het, toe hulle vertroosting nodig gehad het, toe hulle beskerming nodig gehad het, toe hulle ‘n antwoord op ‘n komplekse probleem nodig het. Jesus het onderbrekings in sy lewe beskou as goddelike geleenthede om God se liefde aan desperate mense te betoon.
    Jesus het sy liefde deur sy optrede getoon. Hy roe pons om aksie-figure te wees, maar Hy wil nie hê dat ons so besig raak dat ons die onderbrekings ignorer wanneer ander ons nodig het nie.
    Jesus het gewys dat geloof en diens hand-aan-hand gaan. Toe die vrou met die swak reputasie Jesus se voete met duur olie salf, dit met haar trane was en met haar hare afdroog, het Jesus vir haar gesê: “Jou geloof het jou gered.” Die diens wat sy gedoen het was ‘n weerspieëling van haar geloof in God.
    Geen taak is minderwaardig wanneer ons liefde aan ander bewys nie. Jesus spesialiseer in optredes van diens wat die meeste mense probeer vermy: was voete, help kinders, maak ontbyt en dien melaatses. Niks was benede Hom nie, want sy diens het uis sy liefde gevloei.
    Jesus sê dat ons liefdesdade prakties moet wees. Dit is ‘n liefdesdaad selfs wanneer jy ‘n koue koppie water in sy Naam vir iemand gee. Ons dien God deur ander te dien, en ons dien beter wanneer ons die saam doen.
    Kerngedagte: Mense weet dat jy hulle liefhet as jy wys dat jy hulle liefhet
    Nadinkvraag: Hoe kan jy die liefde van Christus vandag op ‘n praktiese manier deel?

  14. Dag 14 (14 Mei) Deur Jesus te verteenwoordig
    “Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word.” (Kol 3: 17 – die Boodskap)
    “… en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.” (Gal 2: 20a)
    As gelowiges het ons rol in die lewe verander. Dit is nie meer ons om net na onsself om te sien nie. Dit is nou ons werk om die belange van Jesus te verteenwoordig. Ons moet sy gesig en hande en voete wees – om in sy plek in ander se lewens te verskyn. Ons verteenwoordig Jesus by die begrafnis; ons verteenwoordig Jesus by die troue; ons verteenwoordig Jesus as ons oor die heining met ons bure gesels.
    Ons is nie van hierdie wêreld nie, maar ons is in hierdie wêreld. Ons funksioneer as ambassadeurs vir Christus. Hier is ‘n paar maniere waarop jy jou invloed as Jesus se verteenwoordiger kan vermeerder:
    • Glimlag vir mense.
    • Wees simpatiek teenoor mense.
    • Dien mense.
    • Laat jouself hoor.
    • Maak opofferings.
    Bid vandag: “Here, ek wil U verteenwoordiger wees. Ek wil hê U moet my gebruik om enige persoon met wie ek vandag in kontak kom, te beïnvloed en hulle te wys hoe diep en wyd U liefde strek.”
    Kerngedagte: Ons leef nie meer nie, maar Christus leef in ons.
    Nadinkvraag: Hoe kan jy Jesus vandag in die wêreld verteenwoordig?

  15. Week 3 Ons is gekies om saam “gemeenskap van die heiliges” te beoefen…

    Dag 15 (15 Mei) Deur ons afhanklikheid van ander te erken
    “Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar” – Rom 12: 5
    Ons het mekaar nodig.
    Hoekom is ons so huiwerig om te erken dat ons mekaar nodig het? Daar is twee belangrike redes:
    • Eerstens moedig ons kultuur individualisme aan. Ons wil onafhanklike, selfvoorsienende mense wees wat baie goed self klaarkom. Maar die hartseer waarheid is dat ons agter die fasade van selfvertroue gewoonlik eensame en onsekere mense met harte vol seer is. Eensaamheid is die mees algemene siekte in die wêreld, maar ons hou aan om mure om ons te bou in plaas van brûe tussen mekaar.
    • Tweedens is ons trots. Baie mense, veral mans, voel dat dit ‘n erkenning van swakheid is as jy hulp vra of iets benodig. Maar dis glad nie ‘n skande om ander mense nodig te hê nie. God het ons so gemaak! Hy wil hê dat sy kinders op mekaar staatmaak.
    Die woord “liggaam” word dikwels gebruik om ‘n groep mense te beskryf wat deur dieselfde verbind word. Op universiteit was jy deel van ‘n studenteliggaam. Verskeie politieke leiers vorm deel van wetgewende liggame. Maar waneer God praat van die “liggaam van Christus”, praat Hy van ‘n menslike liggaam waar elke deel verbind en interafhanklik is. “Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar” (Rom 12: 5a).
    Jy moet aan ‘n kerkgemeenskap behoort om geestelik te oorleef. Meer as dit, jy moet deel van ‘n kleingroep wees waar jy kan liefhê en liefgehê word, dien en bedien word, deel wat jy leer en van ander leer.
    Kerngedagte: Ek het ander gelowiges in my lewe nodig en hulle vir my.
    Nadinkvraag: Wat weerhou my daarvan om ‘n verbintenis met ‘n kleingroep te maak?

  16. Dag 16 (16 Mei) Deur ten volle aan mekaar verbind te wees
    “Kom ons doen ons uiterste bes om in vrede met mekaar te leef.”
    (Rom 14: 19a – die Boodskap)
    Die gemeenskap van die heiliges word gehou deur ‘n ernstige, vaste verklaring van verbintenis aan mekaar. Die Engelse woord “commitment” som dit goed op.
    ‘n Gesonde Christelike gemeenskap verbind hulleself daartoe om mekaar lief te hê, saam met mekaar te werk en by mekaar te bly.
    Dit is meer as ‘n oppervlakkige “elkeen-vir-homself” benadering tot oorlewing in hierdie wêreld. Dit beteken dat ons die waarde van elke individu in die kleingroep raaksien. Ons sien mekaar as God se skepsels en as vaartuig van God se genade. Dit beteken dat ons belowe om daar te wees vir mekaar.
    Dit beteken ook dat oppervlakkige vrienskappe opsygeskuif word en jy ‘n vriend word soos in Spreuke 18: 24 “daar kan ook ‘n vriend wees wat nader is as ‘n broer.” Ons moet fokus op die kwaliteit van ons verhoudings en nie kwantiteit nie. Ons het nie baie vriende in hierdie lewe nodig nie, maar wel ‘n paar goeies. In ons kleingroepe kan ons dit vir mekaar wees.
    Hierdie vaste, lojale verbintenis aan mekaar beteken die volgende:
    • Wees vir mekaar lief ongeag wat.
    • Wees voortdurend daar vir mekaar.
    • Wees tot mekaar se voordeel.
    Aan wie of wat is jy ernstig verbind? En wie weet dit? Het jy al na iemand toe gegaan, behalwe jou eggenoot, en gesê: “Ek wil hê dat jy moet weet dat ek altyd daar sal wees vir jou.”? Het jy al ooit op ‘n defnitiewe wyse jou verbintenis aan iemand verklaar en gesê: “Ek wil nader aan jou groei as ‘n vriend”? Sal jy dit hierdie week in jou kleingroep doen?
    Kerngedagte: Gemeenskap word gehou deur ten volle aan mekaar verbind te wees.
    Nadinkvraag: As jy vir een van jou goeie vriende moes vra aan wie of wat jy ernstig verbind is, wat sal sy/haar antwoord wees?

    • Die frustrasievlakke loop hoog! Ek kon sedert Saterdag geen e-mails uitstuur aan die gemeente nie, want die hele sisteem is gecrash deur ‘n installeerder van ‘n nuwe fotostaatmasjien! En dit lyk asof niemand behalwe die dames in die kantoor die dringendheid hiervan verstaan nie! Laat my kompleet voel asof iemand daar buite nie wil hê dat die dagstukkies moet uitgaan nie.

  17. Dag 17 (17 Mei) Deur mekaar te respekteer
    “…bewys eerbied teenoor mekaar…” (Rom 12: 10b)
    Respek begin by ‘n goddelike perspektief.
    Respek beteken dat ons gedurig onsself daaraan herinner dat ons binnekort die hemel met dié gaan deel wat in ons kleingroepe en gemeentes is, selfs met dié wat ons tans moeilik vind om te respekteer.
    ‘n Groot deel van repek betoon is eenvoudig om te luister. Ons bied ons teenwoordigheid aan en ons maak ons ore oop – luister na mekaar se verborge seerkry en hartseer, ons diepste drome en begeertes. Die God van die skepping luister na ons gebede, Jesus het na dié rondom Hom geluister, dus moet ons ook na ons broers en susters in Christus luister.
    Om te luister beteken nie dat ons dadelik wegspring om dinge reg te maak of ‘n antwoord het om te gee nie. Dit beteken dat ons mekaar genoeg respekteer om na die hele storie te luister. Soms is al wat ons nodig het dat iemand luister na wat ons op ons hart het. Respek beteken om mekaar te vertrou in plaas daarvan om te aanvaar dat die ander persoon dit verkeerd gaan doen, of nie so goed soos jy nie.
    Ons sal groei in respek vir ander wanneer ons die volgende doen:
    • Kritiek word goed aanvaar as dit op ‘n liefdevolle manier gegee word, en as volwasse Christene, moet ons “… in liefde by die waarheid bly”
    • Verstaan en stel nie net eise nie. Ons respekteer ander wanneer ons hulle hanteer soos ons self hanteer wil word.
    • Wees sagsinnig, nie veroordelend nie. Selfs al verskil ons van mekaar moet ons nog steeds beleefd wees, respek betoon en eerste op ons eie gedrag fokus.
    • Wees hoflik, nie ongeskik nie. Wanneer ander mense ongeskik met jou is, hoef jy nie ongeskik terug te wees nie.
    Kerngedagte: Respek begin by ‘n goddelike perspektief.
    Nadinkvraag: Watter deel van respek betoon is vir jou die moeilikste?

  18. Dag 18 (18 Mei) Deur mekaar te ondersteun
    “…wees almal eensgesind, medelyend, liefdevol, goedhartig, nederig.” (1 Pet 3: 8)
    God help ons om die vrees binne ons deur liefde te verdryf.
    Ons verdryf vrees uit die gemeenskap deur mekaar ondersteunend lief te hê en deur elke lid in die groep veilig te laat voel. ‘n Gevoel van veiligheid laat ons toe om ons mensheid na die groep te bring – insluitend al ons vruegde en pyn, ons hoogte- en laagtepunte, ons oorwinnings en mislukkings.
    Ons gee vir mekaar dieselfde veiligheid wat Christus ons gee – om onsself te wees, om hartseer te wees, om deurmekaar te voel, maar tog liefgehê te word.
    God wil hê dat ons mekaar ondersteun met sagsinnige harte en nederige denke. Ons het sagsinnige harte as ons die volgende vir mekaar sê: Dis ok om ‘n slegte dag te hê; dis ok om moeg te wees; dis ok om jou foute te erken; dis ok om te sê dat jou huwelik besig is om te misluk; dis ok om te erken dat jy ‘n verslawing het; dis ok om te deel as jy bang is; dis ok om ‘n dag sonder jou kleuter deur te bring; dis ok om te treur oor jou geliefde wat dood is; en dis ok om te twyfel, deurmekaar te voel en te huil.
    Ons toon nederige denke wanneer ons vir mekaar sê: Dis ok om gelukkig te wees met jou nuwe kar; dis ok om jou groot verhoging te vier; dis ok om vir ons te vertel dat jy 8kg verloor het; dis ok om te sê dat jy ‘n prestasiebonus gekry het; en dis ok om “halleluja” te skree omdat God se teenwoordigheid in jou lewe so goed is!
    Ons wys ons sagsinnige harte wanneer ons huil saam met dié wat huil. Ons demonstreer ons nederige denke wanneer ons opreg bly is saam met ander.
    Kerngedagte: God help ons om die vrees binne ons met liefde te verdryf.
    Nadinkvraag: Aan wie sal jy vandag krag verleen en hoe sal jy dit doen?

  19. Dag 19 (19 Mei) Deur met mekaar oor die weg te kom
    “Ek doen ‘n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid ons julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging.” (1 Kor 1: 10)
    Hou op probeer om altyd die argument te wen.
    Maak dit eerder jou doel om dié lief te hê wat met jou verskil. Gaan vir liefde en nie om te wen nie. Jesus sê vir ons dat die liefde alles oorwin. Hy het dit gewaarborg toe Hy by sy graf uitgestap het.
    Wanneer jy jouself in ‘n argument met ander gelowiges bevind, gebruik die volgende Bybelse riglyne om oor die weg te kom:
    • Laat genade jou reaksie lei. (Spr 3: 3-6)
    • Laat God die waarheid bepaal. (2 Kor 13: 8)
    • Wees op die uitkyk vir God se teenwoordigheid. (Matt 28: 20)
    • Leun op Christus se manier van dink. (1 Kor 2: 15-16)
    • Soek na die ware bron van die konflik. (Ef 6: 12)
    • Lê die menslike wapens neer. (2 Kor 10: 4-5)
    • Leer om geestelike wapens te gebruik. (2 Kor 10: 4)
    • Vergifnis is nog ‘n geestelike wapen. (Matt 6: 12)
    Ons hoef nie altyd oor alles saam te stem nie. In ‘n orkes is ‘n groot verskil tussen ooreenstemming en harmonie. Al die musikante in ooreenstemming speel sal dit baie vervelig klink. Dis die harmonie wat die mooi musiek na vore bring wanneer verskillende spelers verskillende note op verskillende instrumente speel. Daar is egter slegs een dirigent. Die doel van elke musikant is nie om harder as die ander te speel of te kyk wie eerste klaar is nie, maar die doel is om een te wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging. Wanneer dit gebeur is musiek hemels.
    Kerngedagte: Dis belangriker om lief te hê as om te wen.
    Nadinkvraag: Wat sal jy vandag doen vir versoening met jou broer of suster?

  20. Dag 20 (20 Mei) Deur geduldig met mekaar te wees
    “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.”
    (Ef 4: 2)
    Hoe meer ons verstaan, hoe geduldiger word ons.
    Wanneer ons die seer agter die woede sien, of die rede agter die gedrag, sal ons eerder geduldig wil wees. “’n Geduldige mens is baie verstandig.” (Spr 14: 29) Die vermoë om te verstaan is ‘n teken van geduld. Die Bybel leer: “’n Verstandige mens beteul sy humeur en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees.” (Spr 19: 11)
    Dit help wanneer jy ‘n “geduld-uitdaging” het, om te onthou dat God nooit van jou verwag om meer geduldig te wees teenoor ander as die geduld wat Hy jou gee nie. Paulus gebruik sy eie lewe as ‘n voorbeeld hiervan, en sê dat God hom genade bewys, ongeag sy sonde, sodat “Christus Jesus aan my … al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ‘n voorbeeld kon wees…” (1 Tim 1: 16) Wanneer ons ons eie geduld in lyn met God s’n bring, is ons bereid om nie so hard op ander te wees nie. Ons stem saam dat liefde geduldig is, en dat ongeduld nie liefde is nie.
    Vra jouself die volgende vrae:
    • Watter dinge maak my ongeduldig?
    • Wat sê my ongeduld van my prioriteite?
    • Hoe kan ek mense wat my ongeduldig maak beter verstaan?
    • Neem ek tyd om na hulle verhaal te luister?
    • In watter omstandighede moet mense met my geduldig wees?
    • Gee ek dieselfde hoeveelheid genade aan ander as wat ek van hulle verwag?
    1 Kor 13: 4 sê “Die liefde is geduldig…”. Dit beteken dat liefde baie snert moet verdra. As jou geduld volgende keer opraak, onthou net hoe geduldig Christus met jou is.
    Kerngedagte: Hoe meer ons verstaan, hoe geduldiger word ons.
    Nadinkvraag: Hoe kan ek meer geduldig wees met die mense in my lewe?

  21. Dag 21 (21 Mei) Deur eerlik met mekaar te wees
    “Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.” (Ef 4: 25)
    Eerlikheid versterk gemeenskap.
    Eerlikheid verdiep ons verhoudings en maak dit vir ons moontlik om meer deursigtig teenoor mekaar te wees. Dit hou ons gemeenskap oop en geloofwaardig en laat ons die waarheid praat met liefde, terwyl ons merkwaardige integriteit beoefen. Dit hou ons sensitief vir die Heilige Gees se leiding en help ons om misleiding te beveg wat ons lewens in Christus nadelig kan beïnvloed.
    Eerlikheid vereis van ons om te sê wat ons bedoel en te bedoel wat ons sê.
    As nuwe mens in Christus het ons die ou self agter gelaat en daarom moet ons nie vir mekaar lieg nie.
    Daar is twee tipes leuens:
    1. Doelbewuste leuens: dit is leuens waat ons spesifiek valse verklarings maak.
    2. Die leuens van weglating: dit is leuens waar ons self nie die volle waarheid vertel nie en maak asof ons nie ander se leuens raaksien nie. Hierdie leuens word gekenmerk deur vlytaal wat in Paulus se tyd gebruik is om toegang te kry na die huise van “liggelowige vroue wat met sonde belaai is” (2 Tim 3: 6) met die doel om te verlei.
    Oneerlikheid besoedel ons lewens saam en maak dit moeilik om ‘n dieper vertroue te skep. Ons dink byvoorbeeld dat dit iets kleins is om terug te gaan op jou woord, maar dit kan tot probleme vir die hele gemeente lei. Die Nuwe Testament beskryf so ‘n insident in die kerk van die Galasiërs toe Petrus die nuwe Christene een ding vertel het en toe die teenoorgestelde gedoen het. Sy optrede het die geloof van ‘n gemeente vol jong gelowiges in gevaar gestel, sodat Paulus sê: “Daar moes ek hom voor almal aanspreek omdat hy verkeerd opgetree het.” (Galasiërs 2: 11 – die Boodskap)
    Kerngedagte: Eerlikheid versterk gemeenskap.
    Nadinkvraag: Wat is vir jou ‘n groter versoeking: doelbewuste leuens of die leuens van weglating?

  22. Week 4 Ons is saamgevoeg om te groei…

    Dag 22 (22 Mei) Deur ‘n voorbeeld vir mekaar te wees
    “Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel.” (Filippense 3: 17)
    Ons het almal rolmodelle nodig om volwasse te kan word.
    Baie mense maak die fout om te dink dat al wat hulle nodig het om geestelik te groei God se Woord en gebed is. Maar die waarheid is dat ons mense nodig het om ons te help groei. Christelike karakter word gebou deur verhoudings en nie in isolasie nie. Daar is baie dinge wat God wil hê jy in die lewe moet leer wat jy nie op jou eie kan leer nie. Jy kan dit net leer deur gemeenskap met ander.
    Ons groei altyd vinniger en sterker wanneer ons lewende voorbeelde het van mense wat as rolmodelle kan dien van hoe ‘n doelgerigte lewe behoorte te lyk. Ons het meer as net verduidelikings nodig, ons benodig voorbeelde. Om te groei moet ons sien hoe beginsels in die praktyk toegepas word. Ons het nodig om te sien hoe dit lyk wanneer oortuigings in gedrag omgesit word en in die alledaagse lewe uitgeleef word.
    Wie is jou rolmoldel in Christus? Wie hou jy dop en leer jy by? Hier is ‘n moeiliker vraag: Is jy ‘n voorbeeld vir iemand anders?
    Ons het nie net goeie rolmodelle nodig nie, maar ook mentors. Mentors is persone Christus al langer volg as ons en lewenslesse met ons kan deel. Jy het seker al gehoor dat dit wys is om uit ondervinding te leer, maar dit is wyser om uit ander se ondervindings te leer.
    Vra jouself af: “Wat was die grootste positiewe invloed op/in my lewe?” Dit was waarskynlik nie ‘n seminaar, ‘n erediens of Sondagskoolles nie. Dit was iemand wat jou lewe vorm gegee het deur ‘n persoonlike verhouding.
    Kerngedagte: Ons het rolmodelle nodig om volwasse te kan word.
    Nadinkvraag: Na wie sal ek kyk as rolmodelle en mentors vir my geestelike groei? Vir wie is ek bereid om ‘n voorbeeld te wees?

  23. Dag 23 (23 Mei) Deur mekaar te bemoedig
    “Praat mekaar moed in en versterk mekaar met hierdie woorde, soos julle trouens alreeds doen.” (1 Tess 5: 11)
    Ons het die mag om dood te maak of lewe te gee.
    Baie van die boodskappe wat ek by die wêreld hoor is die doodmaak-tipe. Daar word vir ons gesê: “Jy is nie slim genoeg nie, jy is nie maer genoeg nie, jy is nie vinnig genoeg nie, jy is nie GOED genoeg nie!” Die Bybel sê: “Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.” (Spr 18: 21)
    In ‘n wêreld waar daar op mense getrap word kan ons ‘n teenwig vir die negatiewe wees. Ons het die krag om lewe te gee deur vir mekaar te sê: “Jy maak vir my saak. Jou lewe tel en het ‘n doel. God het jou lief en jy is oneindig waardevol vir Hom.”
    In die Nuwe Testament beteken die woord “bemoedig” dikwels “om langs mekaar in te kom.” Ons moet langs mekaar staan net soos die Heilige Aanmoediger langs ons staan en ons leer en herinner hoe Jesus die gedoen het.
    Wanneer ons ander begin aanmoedig moet ons nie meer afkyk nie, maar begin om op en uit te kyk. Al wat ons moet doen is om rondom ons te kyk – die behoefte en geleentheid vir aanmoediging is oral.
    So, gaan jy dit doen? Gaan jy hierdie week die mense rondom jou voortdurend aanmoedig? Dit is jou keuse: jy kan iemand se gemoed lig, die atmosfeer in die kantoor verander, of jy kan iemand se las ligter maak
    Mag jou gesprekke hierdie week vol van die volgende frases wees: “Ek glo in jou”; “Ek is dankbaar vir jou”; “Ek sien God gebruik jou”; “Ek waardeer jou”; “Ek is bly jy is in my lewe”. Wees bemoedig, daar is goeie nuus van groot vreugde vir alle mense en sy Naam is Jesus Christus die Here.
    Kerngedagte: Ons het die mag om dood te maak of lewe te gee.
    Nadinkvraag: Hoe kan ek ‘n meer konsekwente bron van bemoediging vir dié rondom my word?

  24. Dag 24 (24 Mei) Deur mekaar te onderrig
    “Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid.” (Kol 3: 16a)
    Ons is almal onderwysers van die geloof.
    Sommige van ons glo die mite dat die enigste mense wat ander iets kan leer, mense is wat die gawe het om ander te onderrig en professioneel opgelei is, maar dit is ver van die waarheid. Ons het elkeen iets om aan ons vriende en medegelowiges te gee.
    Onderrig behels meer as om Bybelverhale uiteen te sit of om teologiese insig te verleen. Ons onderrig ook as ons mekaar leer hoe om ons eggenote lief te hê, hoe om wyse besluite te neem, hoe om ons gedagtegang skoon en suiwer te hou, of hoe om sonder geldelike skuld te leef.
    Koning Salomo, ‘n man wie die Bybel beskou as die wysste persoon wat ooit geleef het, het gemeen dat dit belangrik is om by jou vriende te leer. (Spr 12: 15). Salomo skryf in Spr 15: 22: “Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie; dit slaag wanneer daar baie raadgewers is.”
    In vandag se teksvers gee Paulus vir ons riglyne vir onderrig gee en leer by mekaar:
    • Laat die woorde van Christus in jou hart leef. Ons moet God se Woord ken voordat ons daarin onderig kan gee. As ons die woorde van Christus hoor, lees, bestudeer, memoriseer en daaroor mediteer, kan ons dit ter harte neem.
    • Gebruik God se woorde om ander te onderrig en te beraad. Dit is meer as net menslike insig of ondervinding wat ons aan mekaar oordra. Ons kyk te veel na wysheid van die wêreld wanneer ons antwoorde soek; tog benodig die wêreld desperaat die geestelike wysheid wat ons in God se Woord vind.
    Kerngedagte: Ons is almal onderwysers van die geloof.
    Nadinkvraag: Wat is sommige van die lesse wat God jou onlangs geleer het wat jy met medegelowiges kan deel?

  25. Dag 25 (25 Mei) Deur mekaar te waarsku
    “Maar solank as daar nog ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.” (Heb 3: 13)
    As jy omgee sal jy deel.
    “Dit het niks met my te doen nie” is nie ‘n Christelike frase nie. Dit hét iets met jou te doen. Net soos yster, yster slyp (Spr 27: 17) moet ons mekaar stoot in die rigting van Christelike gedrag en mekaar geskerm sodat ons nie in die geloof faal nie. Ons moet by mekaar se lewens betrokke wees en mekaar lief genoeg hê om mekaar te waardeer as dit nodig is.
    Ons waarskuwings moenie net ‘n effense teregwysing wees nie. Dit moet positief en verlossend wees – dit moet ons na ‘n hoër plek roep en ons herinner aan ons goddelike doel. Dit moet vermanings wees vir herstel en liefdevolle regstellings wat met ‘n nederige hart en omgeewoorde gedoen word. Paulus sê: “Wees waaksaam. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baiekeer met trane.” (Handelinge 20: 31) Kan jy die passie en omgee in sy stem hoor? Wanneer ons waarskuwings deur liefde gemotiveer word en gegrond is op verhoudings waarbinne ons ten volle aan mekaar verbind is, kan dit nooit hard en ongeskik voorkom nie. Eintlik sê dit vir ander hoe lief ons hulle het.
    Jy hoor waarskynlik die klein stemmetjie wat sê: “Dit het niks met my te doen nie. Wie is jy om iemand anders te waarsku? Jy het jou eie probleme.” Maar dit het iets met jou te doen. As jy nie in jou vriend se lewe optree nie, wie sal?
    Kerngedagte: Dit het iets met jou te doen.
    Nadinkvraag: Sal jy huiwer en toelaat dat jou vriend voor aankomende verkeer inloop? Waarom is ons dan so huiwerig om ‘n vriend te stop wat sonde binneloop?

  26. Dag 26 (26 Mei) Deur voorkeur aan mekaar te gee
    “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die aan die ander hoër ag as homself.” (Fil 2: 3)
    Laat die ander een eerste gaan.
    As jy “’n Doelgerigte Lewe” gelees het, sal jy die eerste sin van die boek onthou: “Dit gaan nie oor jou nie.” God het ons ontwerp om uit onsself te klim en doelbewus vir ander mense te lewe. Volgens Jesus leef ons op sy manier wanneer ons voorkeur aan ander gee: “As jy net vir jouself lewe, sal jy uiteindelik jou lewe verloor en in die doderyk beland. As jy egter bereid is om jou lewe aan My te wy, sal jy beslis ‘n plek hê in God se nuwe wêreld.” (Matt 16: 25a, Die Boodskap)
    Dit mag dalk aan die begin maklik wees om ander eerste te stel, maar wat as iets regtig vir jou belangrik is? Die Bybel sê: “’n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander.” (1 Kor 10: 24)
    Die Bybel beveel ons om ander eerste te stel en onsself vrywilliglik in ‘n ondersteunende posisie plaas – “bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld” (Romeine 12: 10b). Om dit te doen moet ons die wyse waarop ons dink verander. Ons moet ons perspektiewe opknap.
    ‘n Verandering in perspektief vereis die volgnede van ons:
    • Skakel kompetisie uit. Probeer jy altyd om beter as jou vriende te presteer?
    • Elimineer trots. Wil jy altyd hê dat alles op jou manier moet gebeur? Erken jy geredelik dat jy verkeerd is?
    • Laat jou bedagsaamheid toeneem. Neem jy net aan dat jy die reg tot sekere dinge het?
    Om voorrang aan ‘n ander persoon te gee is reeds ‘n groot uitdaging en dit is hoekom ons op die krag van Christus moet staatmaak om ons te help om dit te doen. Ons put krag uit ons respek vir Christus om ander eerste te stel. Wanneer ons Christus waarlik respekteer kom dit na vore in ons gewilligheid om ander mense eerste te stel.
    Kerngedagte: Laat die ander een eerste gaan.
    Nadinkvraag: Op watter maniere en in watter situasies het jy nodig om hierdie week “tweede fiool” te speel?

  27. Dag 27 (27 Mei) Deur teenoor mekaar te bely
    “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” (Jak 5: 16)
    Die doel van belydenis is nie om in die skande te kom nie, maar om genade te beleef.
    Wanneer die Bybel die woord “bely” gebruik, beteken dit letterlik “om dieselfde te sê.” Wanneer ons bely sê ons dieselfde oor sonde as wat God daaroor sê. Dit beteken dat ons sonde erken en daarvoor verantwoordelikheid neem. Ons bely omdat ‘n berouvolle hart daarna smag om God te gehoorsaam en te dien, nie net omdat ons uitgevang is nie.
    Ons moet ook ons sondes teenoor mekaar bely. Let daarop dat Jakobus hierbo sê dat belydenis teenoor mekaar nodig is “sodat julle gesond kan word” en nie sodat jy vergewe kan word nie. Vergifnis kom slegs van God af, maar gesondmaking kom wanneer jy jou sonde teenoor lede van jou geloofsgemeenskap bely. Die belydenis waarvan Jakobus praat is nie gevolg van ondervraging nie, dit is die gevolg van ‘n berouvolle hart wat vrywilliglik sonde erken.
    Hoekom wil God hê dat ons sonde teenoor mekaar bely? Daar is twee kragtige redes:
    • Eerstens, dit is een ding om van God se vergifnis in die Bybel te lees, maar dit is anders om God se genade en liefde te voel in die stemme van jou vriende.
    • Tweedens verminder skuldbelydenis die mag wat ‘n geheim het. Die begin van die genesingsproses is om goed aan die lig te bring. Daar is iets reinigends en bevrydend om skoon te kom gedurende ‘n belydenis.
    Die hele idee van belydenis klink miskien vreemd en ongemaklik, maar dit is Bybels en is belangrik vir jou geestelike groei. Is God op hierdie oomblik besig om met jou te praat oor ‘n verksuilde gedeelte in jou lewe waaroor jy moet bely?
    Kerngedagte: Die doel van belydenis is nie om in die skande te kom nie, maar om genade te beleef.
    Nadinkvraag: As God met jou praat oor die verborge area in jou lewe wat jy nodig het om te bely, wat gaan jy daaromtrent doen?

  28. Dag 28 (28 Mei) Deur mekaar te vergewe
    “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” (Ef 4: 32)
    Dit is onmoontlik om sonder vergifnis gemeenskap van die heiliges te beleef.
    As gelowiges is ons verantwoordelik vir “die bediening van versoening” (2 Kor 5: 18). Ons moet konstant besig wees om mekaar te vergewe en vergifnis van ander te ontvang, anders “kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor.” (2 Kor 2: 7)
    Wanneer ons deur iemand seergemaak word moet ons kies: gaan ons op vergelding of die oplossing fokus?
    Soos mens die Bybel lees word dit baie duidelik dat vergifnis nie ‘n opsie is vir volgelinge van Christus nie. God stel die standaard so hoog aangesien Hy weet hoe belangrik vergifnis vir jou lewe is. Bitterheid en onvergewensgesindheid is soos ‘n kanker wat jou van binne af sal begin verwoes. Vergifnis is die skalpel wat die gewas van bitterheid verwyder. Dit beteken nie dat dit altyd vir jou moontlik sal wees om te vergewe en dan is die saak afgehandel nie. Jy sal moontlik oor en oor moet vergewe totdat jy verseker weet dat jy waarlik die oortreder vergewe het. Vergifnis is egter ‘n keuse wat jy maak en dit is wat God van jou verwag.
    Wat beteken dit dan om te vergewe? Eerstens moet ons saamstem dat dit nie beteken dat jy verstandelike gimnastiek doen om jou seerkry uit te wis nie of dat jy moet voordoen dat jy nie meer seer net nie. Vergifnis beteken eerder dat jy nie meer die oortreding teen die oortreder hou nie. Dit beteken dat jy die skuld afskryf en dat jy doelbewus gekies het om die persoon wat jou seergemaak het vry te spreek. Jou liefde strek diep deur vergifnis, “want die liefde bedek baie sondes…” (1 Pet 4: 8)
    Kerngedagte: Dit is onmoontlik om sonder vergifnis gemeenskap van die heiliges te beleef.
    Nadinkvraag: As daar iemand is wat jy moet vergewe, wanneer gaan jy dit doen? Is daar iemand wat jy te na gekom het? Wanneer gaan jy daardie persoon om vergifnis vra?

  29. Week 5 Ons is geroep om mekaar te dien…

    Dag 29 (29 Mei) Deur bereid te wees om te dien
    “Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet nie julle vryheid misbruik as verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde” (Gal 5: 13)
    Ons is gered om mekaar te dien.
    Baie mense verkeer onder ‘n wanindruk rakende die woord “roeping”. Ons dink dikwels dat om “geroep” te word iets is wat slegs gebeur met sendelinge, leraars, nonne en ander kerkleiers. Maar die Bybel sê dat almal geroep is om God te dien deur ander te dien. Ons word nie gered deur te dien nie, maar ons word gered om te dien.
    Vandag se teksvers gee drie insigte oor hoe ons God dien deur ander te dien:
    Eerstens is die basis waaruit jy ander dien jou redding. Paulus sê dat ons geroep is om vry te wees. Ons kan God nie dien totdat ons nie deur Jesus vrygemaak is nie. Dit is die vereiste vir diens. Totdat jy die veranderende krag van God se genade in jou lewe ervaar het, is jy te besig met jou eie gewoontes, seer en probleme om veel aan ander te dink.
    Tweedens is selfsug ‘n hindernis tot diens aan ander. Paulus waarsku dat jy nie jou vryheid moet misbruik om in sonde te verval nie. Die nommer een rede waarom ons nie die tyd en energie het om ander te dien nie, is dat ons te besig is met ons eie agendas, drome en plesiertjies.
    Derdens, die motief vir diens is liefde. Paulus sê dat ons mekaar in liefde moet dien. Dit is ‘n belangrike sleutel tot die bou van gemeenskaplikheid. Sonder liefde te diens nie in God se oë nie. 1 Kor 13: 3 sê: “Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.” God stel meer belang in hoekom jy ander dien as in hoe goed jy hulle dien. Hy kyk na jou hart.
    Kerngedagte: Ons is gered om mekaar te dien.
    Nadinkvraag: Hoe gaan jy vandag iemand rondom jou dien?

  30. Dag 30 (30 Mei) Deur mekaar te help
    “Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus” (Gal 6: 2)
    Ons moet mekaar se laste dra.
    Hierdie teksvers beteken dat ons ons broers en susters moet help dra aan swaar laste van die lewe – ‘n swaar verlies, drukkende omstandighede, pynlike diagnose.
    Soos Simon van Sirene die swaar houtkruis van Jesus gedra het, moet ons intree om ons vriende te ondersteun, selfs al beteken dit om hulle laste vir ‘n rukkie te dra. Martin Luther verwys daarna as die wet van gemeenskaplike liefde. Ons moet as ‘n gemeenskap van gelowiges saamwerk in die baie uitdagings van die lewe.
    Ons optrede van liefde en ondersteuning vir mekaar voltooi die “wet van Christus.” Ons bou ons lewens op die belofte van die Vader, wat ons nooit verlaat nie en ons moet daardie belofte ook aan ons familie en vriende maak.
    Hier is ‘n paar basiese beginsels vir wanneer julle moeilikhede saam in die gesig staar:
    • Maak jou hart oop vir God (Ps 62: 8)
    • Help dié wat treur om troos te ontvang (Spr 18: 24)
    • Wees saam dankbaar (Heb 12: 15)
    • Fokus op egte waarde (Luk 12: 15b)
    • Leun op Jesus (Ps 112: 6, 7)
    • Spits jou ore vir God se leiding (Jer 29: 11)
    • Vertrou God se hand (Ps 46: 2)
    Dit is voor die hand liggend dat die mense rondom jou een of ander tyd ‘n krisis gaan ondervind, en wanneer dit gebeur moet jy die krisis sien as jou eie en tasbare ondersteuning en aanhoudende aanmoediging bied.
    Kerngedagte: Ons moet mekaar se laste dra.
    Nadinkvraag: Weet jy van iemand wat jou vandag nodig het om ‘n las te help dra?

  31. Dag 31 (31 Mei) Deur vrygewig teenoor mekaar te wees
    “Al die gelowiges was eengesind en het alles met mekaar gedeel” (Hand 2: 44)
    Jy het meer om te deel as wat jy besef.
    Die vroeë kerk het dit verstaan. Hulle lewe saam word in Hand 2: 44 beskryf: “Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.” As enigiemand nood het in die gemeente, moet almal daaraan saamwerk. Sommige gelowiges is deur die Gees gelei om al hulle besittings te verkoop en die geld te gee vir dié wat dit nodig het.
    Dit is nie kommunisme nie; dit is logika. Dit beteken om alles vir jouself te hou al het jy genoeg, nie reg is nie, en daarom moet ons ons talente gebruik om ander te help. Alles wat ons besit is ‘n goeie gawe en volmaakte geskenk en kom van ons hemelse Vader af, wat dit op ons uitstort – ons is “geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. ” (Ef 1: 3)
    Jy mag miskien nie baie geld hê om te gee nie, maar jy kan jou tyd en talente gee. Dit is ‘n groot deel van vrygewigheid. Maar jy kan ook vrygewig wees met die oorvloed van jou besittings. Byvoorbeeld: Babaklere wat in ‘n klerekas gebêre word; ‘n Ou rekenaar; Ekstra kaartjies vir ‘n sportwedstryd; Voyager myle; Die twee ekstra broodroosters wat jy as trougeskenke gekry het.
    Hier is egter ‘n belangrike punt: jy hoef nie iets weg te gee om dit te deel nie! Jy mag miskien ryk wees in die sin dat jy baie dinge het wat jy vir ander kan leen.
    Soos ons leer om vrygewig te wees is daar ‘n paar kenmerke om te ontwikkel: Onthou altyd dat alles aan God behoort; Gee met ‘n blymoedige hart; Moet nooit onder druk gee nie.
    Jy het werklik meer om te deel as wat jy besef. Leer om vrygewig te leef. Jy sal ryker wees as wat jy was.
    Kerngedagte: Jy het meer om te deel as wat jy besef.
    Nadinkvraag: Jou besittings – besit jy hulle of besit hulle jou?

  32. Dag 32 (1 Junie) Deur nederig teenoor mekaar te wees
    “En julle wat jonger is, moet dan aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee hy genade.” (1 Pet 5: 5)
    Onthou om vergeetagtig te wees.
    Die lewe van ‘n dienaar vereis ‘n tipe vergeetagtigheid – die vermoë om van onsself te vergeet. Ons moet ‘n houdig soos Jesus s’n kweek. Hy wat in gestalte van God was het vrywillig die gestalte van ‘n slaaf aangeneem en daarom moet ons alles in ons vermoë doen om te sorg dat ander gelowiges ook gelukkig is.
    Jesus het een nag sy dissipels se voete gewas. Die sleutel tot nederigheid is om te weet wie jy is. Wanneer jy verstaan wie jy is, is jy gemaklik om die handdoen te gryp in plaas van die kollig. Jesus het nie omgegee of iemand Hom vir ‘n dienskneg aansien nie, want Hy het geweet dat dit sy missie in die lewe is. Hy het meer daarin belang gestel om ander te dien as om hulle te beïndruk.
    Nederigheid beteken eenvoudig dat ons ‘n akkurate en onbevooroordeelde opname maak van ons sterk- en swakpunte. Ons verstaan hoe ons gemaak is en wat ons talente is. Ons besef ook ons beperkings, maar bekommer ons nie gedurig daaroor nie. Ons sien dat alles wat ons het ‘n geskenk van God is ons weet dat ons sonder Hom niks het nie.
    Die eerste kritiese stap om ‘n nederigheid soos Jesus te ontwikkel is om God se omvangryke liefde vir ons te besef. Die tweede stap is om ons agenda aan God oor te gee. Ons moet bid, “God, ek gaan U planne vir my lewe volg, nie my eie nie.”
    Kerngedagte: Nederigheid is die gevolg daarvan dat jy weet wie jy is.
    Nadinkvraag: Hoe voel jy as jy soos ‘n dienskneg behandel word?

  33. Dag 33 (2 Junie) Deur jou talente te gebruik om ander te seen
    “…daarom moet julle julle talente gebruik om ander te help.” (1 Pet 4: 10 – Die Boodskap)
    Jy moet die plek vind waar God se wil en jou gawes kruis.
    “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het,” skryf Paulus in Romeine 12: 6a. Die Bybel is vol voorbeelde van waar God se volk hul gawes, wat God vir hulle gegee het, gebruik om ander tot Sy eer te seën. Hierdie lys van gawes sluit die volgende in, maar is nie tot hulle beperk nie: vakmanskap, argitektuur, administrasie, gebak, debatering, ontwerp, balseming, borduur, gravering, boerdery, hengel, tuinmaak, lei, bestuur, messelwerk, maak van musiek, naaldwerk, verf, seil, verkoop, klere maak, leer, literatuur en poësie skryf.
    God wil hê dat ons mekaar aanspoor om “ons gawes op vindingryke maniere te gebruik.” (Heb 10: 24 – Die Boodskap) Ons moet wegbreek van die lys tradisionele rolle en take wat Christelike diens gewoonlik vergestalt. Die Here wil hê dat ons die perspektief moet hê dat watter gawes ons ook al het, dit gebruik kan word “tot eer van God.”
    Jy kan jou gawes en vermoëns bepaal deur na die volgende dinge te kyk:
    • Geestelike Gawes (1 Kor 12, Rom 12, Ef 4)
    • Hart (Spr 4: 23, Matt 12: 34)
    • Vermoëns (Eks 31: 3)
    • Persoonlikheid
    • Ondervinding
    Kerngedagte: Jy moet die plek vind waar God se wil en jou gawes kruis.
    Nadinkvraag: Hoe kan ek my vermoëns gebruik om God te dien deur ander te dien?

  34. Dag 34 (3 Junie) Deur vir mekaar op te offer
    “Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.” (1 Joh 3: 16)
    Ernstige diens vereis ernstige opoffering.
    Tog het sommige gelowiges lewenstyle wat min of geen opoffering vereis. Hulle ken “God het die wêreld so lief gehad…”, maar hulle behoort ook hulleself vertroud te maak met “Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.”
    Wat dit ook al kos om die lewens van ander te verryk ter wille van God beskou Paulus as ‘n waardevolle opoffering. Hy hou sy oë op die prys gerig. Hy volg Jesus wat “die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins.” Jesus het die voorreg van sy goddelikheid eenkant toe geskuif en die “gestalte van ‘n slaaf” aangeneem sodat dié wat in Hom geglo het “… die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as eiendom van God beseël.”
    Ek en jy trek daagliks voordeel uit die opofferings van ander gelowiges. ‘n Eenvoudige illustrasie is die gebou waar julle weekliks vir die erediens byeenkom. Het jy al ooit gedink hoeveel mense opgeoffer het sodat jy daar kan aanbid?
    Ons Christelike opofferings behoort die volgende te wees:
    • Vrywillig – soos Jesus sy lewe vrywillig vir ons neerlê
    • Duur – Dawid sê dat hy geen opoffering aan God maak wat hom niks kos nie. Om God te dien is duur en die koste is nie net finansieel nie.
    • Standhoudend – Ons moet vir ander doen wat hulle nie vir hulleself kan doen nie en dit volhoudend doen.
    Op watter maniere kan jy opofferings maak? Offer tyd op dié rondom jou te versorg, gee jou reputasie deur om vir Jesus op te staan, waag dit om verwerp te word deur ‘n ander gelowige te verdedig, gebruik jou vakansie om te dien.
    Kerngedagte: Ernstige diens vereis ernstige opoffering.
    Nadinkvraag: Watter opoffering kan jy maak om lewens te verryk?

  35. Dag 35 (4 Junie) Deur met mekaar saam te werk
    “Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.” (1 Kor 3: 9a)
    Ons vaar beter saam.
    God se plan vir ons is om in vennootskap met Hom en ander te wees sodat Sy doelwitte bereik kan word. Maar die een ding van vennootskappe is dat hulle uit dele bestaan. Soos ons reeds geleer het: “Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.”
    Dit is ‘n paradoks (skyn-teenstelling) van ons geloof dat ons eers uitvind dat ons uniek is en ‘n spesifieke doel in die lewe het nádat ons ons individualisme opgeoffer het. Ons word een van hart en denke met God en ander gelowes. In die veiligheid van die gemeenskap sal ons waarde as individue na vore tree.
    Ons vaar beter saam, en hierdie 40-dag studie is bedoel om ons te help om ons verbindtenis raak te sien, en ons aan te moedig om as ‘n gemeenskap van interafhanklike vennote te begin saamwerk.
    Een punt om toe te pas: Beplan ‘n dag wanneer jou kleingroep saam met ander kleingroepe in jou gemeente werk om die kerkgebou skoon te maak. Loop deur die gebou en gronde asof jy ‘n besoeker is en maak aanpassings waar nodig.
    Kerngedagte: Ons vaar beter saam.
    Nadinkvraag: Hoe vul jou gawes en vermoëns dié van ander gelowiges rondom jou aan?

  36. Week 6 Ons is geskep om saam te aanbid…

    Dag 36 (5 Junie) Deur weekliks te aanbid
    “Ses dae moet julle werk, maar die sewende dag is ‘n rusdag, ‘n sabbat waarop julle ‘n gewyde byeenkoms moet hou.” (Lev 23: 3a)
    Daar is ‘n ritme in die lewe.
    Het jy geweet dat God jou beveel om elke week een hele dag af te neem? God beskou dit as so belangrik dat Hy dit by sy “top tien” reëls vir die lewe ingesluit het.
    Die Bybel noem dit die Sabbat, ‘n hele dag wat opsygesit word vir rus en gesamentlike aanbidding. Nie om ‘n paar takies af te handel nie. Nie om werk in te haal nie. Nie om ander byeenkomste te reël nie. Dit is vir rus en gesamentlike aanbidding bedoel en nie opsioneel nie.
    Hoekom is ‘n weeklikse Sabbat so belangrik? Jesus verduidelik: “Die Sabbat is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbat nie” (Mark 2: 27). Jesus het geweet dat rus en aanbidding saam met ander gelowiges op ‘n weeklikse basis nodig is. Dit is deel van God se beplande ritme vir die lewe.
    Met vandag se vinnige lewenstyle, is Saterdae en Sondae egter gewoonlik besiger as die res van die week. Ons probeer soveel aktiwiteite oor ‘n naweek indruk, dat ons wanneer Maandag aanbreek nie gerus of aanbid het nie.
    By ‘n gesamentlike erediens aanbid ons op ‘n manier wat ons nie op ons eie kan doen nie. As ons sing en saam feesvier, bid en saam bely, ons harte deel en mediteer, saam ons bydraes gee en saam ons verbintenis verklaar, word ons geloof bevestig, ons hoop versterk en ons liefde hernieu. Dit kan net tydens gemeenskap van die heiliges gebeur.
    “Ons moet nie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.” (Heb 10: 25)
    Kerngedagte: Die Sabbat is ‘n tyd om te “Bedaar en erken dat Ek God is”. (Ps 48: 11)
    Nadinkvraag: Hoe moet jy met jou skedule en prioriteite te werk gaan om in pas met God se ritme te kom?

  37. Dag 37 (6 Junie) Deur voor te berei vir aanbidding
    “(Rehabeam) het gedoen wat verkeer is en hy het hom nie daarop toegelê om na die wil van die Here te vra nie.” (2 Kron 12: 14)
    Wanneer ons met ‘n onvoorbereide hart aanbid, sondig ons.
    God verwag nie van ons dat ons gesamentlike aanbidding perfek moet wees nie, maar Hy verwag dat ons gefokus sal wees, met elkeen van ons wat by die erediens aankom met ‘n voorbereide hart en suiwer denke. In hierdie gesamentlike offer aan God betree ons sy teenwoordigheid op ‘n spesiale manier.
    Om vir aanbidding voor te berei beteken dat ons ons pas verslap, van onsself wegdraai, en begin nadink oor wat God vir ons gedoen het. Dit sal ons harte met dankbaarheid vervul, wat ons in ons aanbidding kan gaan uitdruk: “Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.” (Ps 84: 3)
    Wanneer ons ons harte ondersoek het, kan ons vir gesamentlike aanbidding voorberei deur vir God die volgende drie dinge te sê wanneer ons die erediens binnegaan:
    • Ek het gekom op U te fokus, Here, en op niks anders nie. Help my om my gedagtes suiwer te hou en U met ‘n onverdeelde hart te dien.
    • Ek het gekom om aan U te gee en nie te ontvang nie. Ek begeer om U aangesig te soek en nie U hand nie. Ek is hier om U te aanbid.
    • Ek kom om lof aan U te bring deur my hart, stem en hande te gebruik om U te aanbid. Ek kies om op U goedheid en genade te fokus, en nie op my menslike foute en metodologie nie.
    God se uitnodiging om in aanbidding na Hom te kom is ‘n onmeetbare voorreg. Mag ons dit nooit vanselfsprekend aanvaar nie.
    Kerngedagte: Wanneer ons met ‘n onvoorbereide hart aanbid, sondig ons.
    Nadinkvraag: Wat moet jy doen om jouself hierdie naweek vir gesamentlike aanbidding voor te berei?

  38. Dag 38 (7 Junie) Deur saam te bid
    “Hulle het almal eensgesind volhard in gebed…” (Hand 1: 14)
    God het bedoel dat gebed ‘n prioriteit moet wees en nie ‘n nagedagte nie.
    In baie kerke en kleingroepe is gebed soos die sing van die volkslied by ‘n sportbyeenkoms: ons kan nie daaraan dink om daarsonder te begin nie, maar dit het nie veel met die byeenkoms uit te waai nie. In die vroeë kerk was dit anders.
    Gebed nooi die teenwoordigheid en krag van God jou omstandighede en groepslewe binne. Die meeste van ons weet dis waar, maar in die praktyk word gebed eenkant toe geskuif. Baie Christene lewe met ‘n skuldgevoel en gevoel van ontoereikendheid waneer dit by hul gebedslewe kom.
    Kom ons wees eerlik, om jou aan gebed toe te wy en te leer om saam te bid is nie maklik nie. Dit is interessant dat die enigste keer wat die dissipels Jesus gevra het om hulle iets te leer, hulle gevra het: “Here, leer ons bid…”
    Hier is vier praktiese voorstelle:
    • Maak gebed ‘n pririteit in elke byeenkoms waar jy saam met gelowiges vergader.
    • Laat soveel as moontlik mense deelneem aan gebed as julle vergader is.
    • Leer om jou ware behoeftes vir gebed en voorbidding met die groep te deel.
    • Bid wanneer die geleentheid hom voordoen. Dit is kosbaar om vir iemand ‘n kort gebed te doen wanneer hy vertel van sy behoefte of nood – “in die oomblik.”
    Om saam te bid is een van die grootste voorregte wat ons as lede van Christus se gemeenskap het. Laat ons mense wees wat die volle voordeel van die voorreg van gebed gebruik.
    Kerngedagte: As jy in ‘n groep saam bid, sal julle geloof versterk word, en julle sal God se krag in aksie sien.
    Nadinkvraag: Hoe hoog is gebed op jou prioriteitslys?

  39. Dag 39 (8 Junie) Deur ons offerhandes saam te gee
    “Elke Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar; sodat die geldinsameling nie eers plaasvind as ek kom nie.” (1 Kor 16: 2)
    Gee terug aan God met ‘n hart van aanbidding.
    Dit mag jou miskien verras om te weet dat Jesus meer oor geld en besittings gepraat het as oor die hemel en die hel. Die woord “gee” word meer as 1500 keer in die Bybel gebruik, meer as die woorde geloof, hoop, liefde of gebed. Hoekom? Duidelik kan ons sien dat God nie ons geld nodig het nie. Hy is nie arm nie. Maar God wil hê dat ons soos Hy sal word en dit sal slegs gebeur as ons leer om vrygewig te wees. God is ‘n gewer. Die mees vrygewige gewer ooit.
    In baie kerke is die gee van offergawes die laagste prioriteit in die diens. Dit word geïgnoreer, verdra of openlik deur baie verwens. Maar in die Bybel leer ons dat God wil hê dat ons offerandes ‘n diep betekenisvolle uitdrukking van aanbidding moet wees in drie dimensies – verlede, hede en toekoms.
    Eerstens is my offergawe ‘n uitdrukking van dankbaarheid teenoor God vir die verlede. “Dankie” en “gee” gaan hand-aan-hand.
    Tweedens, my offergawe dui my prioriteit in die hede aan. Die wyse waarop mense hulle tyd en geld spandeer wys wat regtig vir hulle belangrik is. Dit is een ding om te sê dat jy God liefhet, maar die Bybel sê dat om te gee ‘n toets van die opregtheid van ons liefde is. (2 Kor 8: 8)
    Derdens, om te gee is ‘n uitdrukking van my geloof in God vir die toekoms. In Mal 3: 10 lees ons: “Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik.” God daag jou uit.
    Kerngedagte: Om terug aan God te gee is die hart van aanbidding.
    Nadinkvraag: Wat wys my “gee” van my hart?

  40. Dag 40 (9 Junie) Deur saam fees te vier
    “En sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.” (Ef 5: 19)
    Aanbidding is ‘n fees, nie ‘n begrafnis nie!
    As enigiemand op aarde die reg het om fees te vier, is dit vir dié sat hulleself daartoe verbind het om vir Christus te leef en wat in God se familie aanvaar is! Dink net aan alles wat God vir ons gedoen het!
    Dit is ironies dat dit in ons kultuur aanvaarbaar is om oor alles opgewonde te raak behalwe God. Jyu kan na ‘n sportbyeenkoms gaan en jou longe uitskree, op en af spring, huil, omhels en jou hande in die lug steek – en mense sal glimlaggend na jou kyk en jou ‘n “aanhanger” noem. Maar as jy genot, hartlike emosie of entoesiasme in aanbidding wys, word jy ‘n “fanatikus” of “charismaties” genoem.
    God is lief om te hoor hoe sy kinders sy lof besing. “Laat alles wat asem haal die Here prys!” (Ps 150: 6) “Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here, sing tot sy lof in die vergadering van sy troue dienaars.” (Ps 149: 1) ’n Nuwe lied!? ‘n Nuwe lied, want God wil iets vars en nuuts in ons lewens doen!
    Die Bybel is vol feesvierings – feeste en vakansies en onthale – want dit is ‘n belangrike manier om vordering in ons lewens te vier. Daar is groot mag in herinnering. Maar ons is soms te besig om na die volgende aktiwiteit te beweeg dat ons nie stilhou om te vier wat bereik is nie.
    Openbaring 5: 11 – 13 vertel ons dat die hemel ‘n groot feesviering gaan wees. Kom ons begin solank oefen sodat ons harte vir die hemel gereed is. Dit tyd wat ons nou bestee om Hom op aarde te besing laat ons uitsien na die dag wanneer die liedere nooit gaan ophou nie.
    Kerngedagte: Elke keer as ek God saam met ander verheerlik, oefen ek vir die hemel.
    Nadinkvraag: Wanneer jy aanbid, is jy meer bekommerd oor wat ander van jou dink of van wat God dink?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.